Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SUID-AFRIKAANSE RADIOLIGA NUUS SONDAG 7 SEPTEMBER 2014/1

Goeiemore en welkom hier by die weeklikse nuusuitsending van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat gelees word deur ....................................... vanuit .............................. Die Suid-Afrikaanse Radioliga saai elke Sondag om 08:15 plaaslike tyd 'n nuusbulletin in Afrikaans en om 08:30 in Engels op HF en verskeie BHF en UHF herhalers. Vir Echolink luisteraars is daar ‘n herleiding deur ZS0JPL. ‘n Potgooi is ook beskikbaar op die SARL webblad asook by www.podpage.co.za

Hierdie oudio bulletin kan van die Suid-Afrikaanse Radioliga se webblad, www.sarl.org.za, afgelaai word. ‘n Teks weergawe van hierdie en vorige bulletins kan ook daar verkry word en jy kan ook inteken om nuwe bulletins per e-pos te ontvang.

Ons begin vanmôre se bulletin met nuus van ‘n stilsleutel. Dit is met leedwese dat ons die afsterwe op 2 September van Skip van Niekerk, ZS4Z, in die ouderdom van 84 jaar, moet aankondig. `n Gedenkdiens was op 5 September in Bethlehem ter nagedgtenis van Skip gehou. Hy was vir baie jare lid van die Vrystaat Amaterurradioklub gewees. Sy vriende en familie gaan hom baie mis.

Ons betuig ons innige meegevoel met sy familie en vriende

POUSE......................

IN VANDAG SE NUUS

OKOSA SE IMF WETSONTWERP KAN ERNSTIGE IMPLIKASIES INHOU VIR AMATEURRADIO.

RTA IN PRETORIA VOLGENDE NAWEEK

NUWE INTERNASIONALE AFRIKA KOMPETISIE VOORSTEL

en

JEUGNET VANMIDDAG

In vandag se nuus

** OKOSA het op 27 Augustus `n dokument bestaande uit 233 bladsye gepubliseer tov Internasionale Mobiele Kommunikasie. Dit staan ook bekend as die IMT padkaart. Kommentaar en voorstelle moet by OKOSA ingedien word voor of op 7 Oktober 2014. Die IMT padkaart voorstel kan ernstige implikasies inhou vir amateurs in die 70 cm band sowel as in die 2 en 5 GHz amateurbande.

Die Suid-Afrikaanse Radioliga se bandreguleerderwerkgroep is gevra om die Staatskoerant te bestudeer en later gedurende September `n telekonferensie te hou waar `n dokument geformuleer moet word om aan OKOSA te oorhandig. Die dokument sal die implikasies tov die genoemde bande aanspreek. `n Kopië van die Gazette no 37948 is beskikbaar op OKOSA se webblad. Suid-Afrikaanse Radioliga lede kan ook `n afskrif van die gazette aanvra deur `n e-pos aan sarlregwg@sarl.org.za te stuur

** Komende Saterdag 13 September vind die RTA by die Innovation Hub in Pretoria Suid-Afrikaanse Radioliga. Besprekings sluit op Dinsdag 9 September. Bespreek asseblief onmiddellik om sodoende reëlings te vergemaklik tov beplanning en spysenering. Inligting kan op die Suid-Afrikaanse Radioliga se webblad gevind word.

Tony Voorveld, ZS6CCD, is die hoofspreker met sy onderwerp “The Magic Lamps.” Ander interessante aanbiedings sal gedoen word deur Steward Moss, ZS6SGM, met onderwerp, “WSPR 5 MHZ voortplantings navorsingsprojek”, antenna modellering met NEC2 deur Vincent, ZS6BTY, digitale modusse en hoe dit aangewend word in amateurradio deur Riaan Greeff, ZS4PR. Frik Wolff, ZS6FZ, sal ook die belangstelling prikkel met sy aanbieding van die Suid-Afrikaanse Radioliga geïsoleerde sendontvanger gekontroleerde koppelvlak stel. Bespreek nou om teleurstelling te voorkom.

** Wat begin het as `n e-pos bespreking tussen Pierre, ZS6A, en Roger, ZS6RJ, tov die huidige SARL “blouboek” kompetisie reëls en voorgestelde veranderings, het uitgekring in `n gesprek wat kan lei tot `n moontlike internasionale Suid-Afrikaanse Radioliga kompetisie.

Pierre het die idée op die Suid-Afrikaanse Radioliga forum geplaas en dit blyk dat die gedagte alreeds `n paar keer in die verlede op die Forum geopper was deur `n klein groepie Suid Afrikaanse amateurs wie die gedagte nou verder wil uitbrei.

Die idée is om die eerste internasionale DX kompetisie vir die Afrika kontinent aan te bied onder die naam van AMA of soos dit bekend is as “All Mainland Africa, All-Mode International DX Contest”. Die kompetisie sal alle modusse insluit. Agt Suid-Afrikaanse amateurs het die daad by die woord gevoeg en het alreeds `n raamwerk voorstel daar gestel waar ander amateurs bydraes en voorstelle byvoeg. Konstruktiewe kritiek sal in die finale voorstel ingevoeg word.

Huidig word nuwe voorstelle weekliks opgedateer en gepubliseer. Verlede week is `n skakel aangebring op die Suid-Afrikaanse Radioliga besprekings forum en is oop vir algemene voorstelle en terugvoer.

Die nuuste voorstel is weergawe 4 onder die kompetisie en toekenningsafdeling en alle amateurs word gevra vir julle samewerking. Daar word beplan om vir nog 2 tot 3 weke terugvoer te bekom op die forum voordat `n finale voorstel aan die Suid-Afrikaanse Radioliga oorhandig sal word waar dit dan bekragtig kan word as `n offisiële kompetisie. Dit sal as `n jaarlikse item op die kompetisie kalender aangebring word wat deur die kompetisie komitee beheer sal word.

Om internasionale perspektief te bekom word die voorstelle ook aan bekende oorsese DXers gestuur vir hulle insette soos bv die “British Amateur Radio Teledata Group.” Die kompetisie word ook gesien as `n katalisator om RTD in Afrika te bevorder.

Stuur jou terugvoer direk aan die Suid-Afrikaanse Radioliga forum of aan Roger, ZS6RJ . Roger se e-pos is op die Suid-Afrikaanse Radioliga web beskikbaar.

Geoff Levy sal die voorstel saamneem na die IARU Streek 1 Konferensie gedurende die tweede helfte van September en dit daar met van die Afrikalande kongresgangers deel.

KOM ONS KYK NOU EERSTENS NA NUUS VAN BELANG TOV DIE LIGA, EN LIDMAATSKAP

** Die Agulhas 2 het die afgelope Donderdag anker gelig en na Tristan de Cunha geseil. Op die kaai het `n aantal radio-amateurs, twee mede amateurs nl. Paul, ZS1S en Nigel, G3TXF, afgesien en `n veilige seereis toegewens. Paul en Nigel gaan `n DX stasie op die eiland oprig. Paul sal die roepsein ZD9ZS op enkelsyband gebruik en Nigel sal die roepsein ZD9XF gebruik wanneer hy op Gelykgolf kontakte sal probeer soek. Hierdie DX stasie sal deur die twee amateurs vanaf 10 September tot 3 Oktober bedien word. Vir Paul en Nigel is dit `n droom wat waar geword het en twee jaar geneem het om te beplan. Besoek www.g3txf.com vir informasie en fotos van die ekspedisie.

** Die 5 MHz Aktiwiteit naweek sal gehou word op 20 en 21 September 2014. Suid-Afrikaanse Radioliga lede word uitgenooi om spesifiek aandag te gee aan seinvoortplantings navorsing op 5 Mhz. Die aktiwiteit sal op biede die genoemde dae plaasvind vanaf 13:00 tot 20:00. Verskillende aktiwiteite sal plaasvind op vooraf bepaalde tye. Die aktiwiteit is gerig op alle radio-amateurs wat permanent buite die grense van Suid-Afrika woonagtig is. Vir meer besonderhede besoek die Suid-Afrikaanse Radioliga se webblad.

** Die Suid-Afrikaanse Radioliga Jeug Net sal plaasvind elke eerste Sondag van die maand. Dus kan jy vanmiddag, as jy onder die ouderdom van 25 jaar is vanaf 15:00 op 7 070 kHz lekker saam met ander jeuglede kom gesels. Die net sal nie net daaruit bestaan om `n seinrapport te gee nie, maar daar sal ook `n interessante onderwerp bespreek word. Die onderwerp wat vandag onder die loep geneem sal word sal handel oor “Facebook - of is daar ander beter sosiale mediaplatvorms.”

**Volgens Vonnie, die Suid-Afrikaanse Radioliga administrateur, het lede baie fluks gereageer om lidmaatskapgelde die afgelope week te vereffen. Sy vra egter dat jy asseblief geduld moet beoefen wanneer dit kom by erkenning van jou betaling. Sy vra ook dat lede asseblief baie seker moet maak dat betalings vergesel is van jou naam en roepsein. Heel wat lede vergeet hiervan, wat sake dan bemoeilik om te bepaal van wie die lidmaatskapgelde ontvang is. Maak asseblief seker dat jy jou naam en roepsein by die betaling aanheg.

** Geen aansoeke om lidmaatskap van die Suid-Afrikaanse Radioliga is gedurende hierdie week ontvang nie. Lidmaatskaptal van die Suid-Afrikaanse Radioliga is tans 1396 plus 31 geaffilieerde klubs.

Indien u geen toegang tot die webwerf het nie, is u lidmaatskap waarskynlik nie op datum nie. Kontroleer met die kantoor per epos of telefoonoproep.

ONS VERVOLG NOU MET KOMPETISIENUUS EN KOMPETISIE UITSLAE

** Die kompetisiekomitee het 20 logstate ontvang vir die SARL HF GG Kompetisie gehou op Sondag 31 Augustus 2014. Sestien van die logs kom van Suid-Afrikaanse stasis, terwyl die ander vier van Saudi Arabia, Japan, India en Madagascar kom.

Jy het tot middernag vanaand om jou log in Cabrillo, ADIF of MS Excel in te dien by zs4bfn@gmail.com.

VOOR ONS DIE BULLETIN AFSLUIT , KOM ONS KYK EERS NA DIE HF VOORTPLANTING VOORSPELLING ASOOK DIE DAGBOEK VAN GEBEURE.

** Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die sonaktiwiteitsvlak gematig gaan wees. Aktiewe sonvlekke AR2152, 2153 en 2157 bestaan uit komplekse magnetiese konfigurasies en besit voldoende energie vir M- klas sonfakkels.

Vir diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings wil doen, die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week is ongeveer 100.

Amateurs gaan die 20 tot 10 m DX-bande geniet met die 15 m wat die beste openinge gaan oplewer terwyl die 20 m net 'n kortkop agter behoort te wees.

Besoek gerus die webtuiste spaceweather.sansa.org.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

7 September - Suid-Afrikaanse Radioliga Jeug net
7 September - Vandag is die laaste dag vir indiening van die SARL se HF GG Gelykgolf logstate
13 September - RTA by die Innovation Hub
20 en 21 September – 5 MHz aktiwiteit naweek

En dan om mee af te sluit ‘n terugblik op vandag se hoofnuus:

OKOSA het op 27 Augustus `n dokument bestaande uit 233 bladsye gepubliseer tov Internasionale Mobiele Kommunikasie. Dit staan ook bekend as die IMT padkaart. Kommentaar en voorstelle moet by OKOSA ingedien word voor of op 7 Oktober 2014. Die IMT padkaart voorstel kan ernstige implikasies inhou vir amateurs in die 70 cm band sowel as in die 2 en 5 GHz amateurbande.

Dit bring ons aan die einde van die Suid-Afrikaanse Radioliga nuusbulletin. Vind meer uit oor hierdie en ander nuus deur die Suid-Afrikaanse Radioliga se webtuiste te besoek.

Luister elke Sondagoggend om 10:00 Plaaslike tyd na "Amateur Radio Today". Daar is herleidings op 7 082, 7 205 en 17 660 kHz. 'n Potgooi deur Dick, ZS6RO en ook verskeie herleidings op BHF en UHF frekwensies word landswyd gedoen.
'n Heruitsending vind plaas op Maandae om 18:30 plaaslike tyd op 3 230 kHz.
Besoek die webblad www.podpage.co.za om ook ander interessante amateurradio verwante potgooi artikels af te laai.

Ons ontvang ook graag jou sein rapporte, kommentaar en voorstelle vir nuusbulletins. Stuur `n e-pos aan artoday@sarl.org.za. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

Die SARL se nuusdiens nooi klubs en individue om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars in te dien. Plaas nuusberigte - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans op die SARL webtuiste onder die newsinbox skakel, nie later as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan nie.

Jy het geluister na ‘n nuusuitsending van die Suid Afrikaanse Radio Liga wat saamgestel was deur Johann, ZS6PSS, en geredigeer is deur Dennis, ZS4BS, en gelees is deur ..................................................................

Die Afrikaanse nuusspan groet nou en wens jou 'n mooi week toe. Totsiens

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003